Thursday, April 24, 2008

Goeie nuus of slegte nuus??

Wil julle die goeie nuus of die slegte nuus 1ste hoor??? Ag, kom ons begin sommer by die begin.

Saterdag 19 April
Dis ons trek dag. WP het my gister gebel om te sê die trek lorrie kom 9uur Saterdag oggend en ek het nog so te sê net die glase gepak. Ek moes Vrydag inderhaas afvat by die werk om te gaan pak. Vrydag-aand 11uur is ons kla gepak. Nog net hier en daar 'n paar dingetjies wat rondstaan. Die werk het op die ou end ingestem om 'n trek lorrie te stuur vir ons goed. Hulle vat toe natuurlik die goedkoopste en watter gemors. Die oom kom eers half10 Saterdag oggend op Robertson aan. En dit reën katte en honde!!!!! Die oom het 'n 3-ton lorrietjie wat oop is en net met seile toegemaak word. Dit was 'n gesukkel om in die reen die lorrie gelaai te kry. Na 'n hele paar uur besef die oom alles gaan nie op die lorrie nie. Ons weier toe dat hy moet terugkom en hy laat kom toe sy seun uit die Strand met 'n bakkie om die res van die goed te kom haal. En nogsteeds staan daar goed in my garage!!!! 3uur die middag is die omie daar weg, die lorrie gelaai se ek julle!!! Ons gaan eet toe vinnig ietsie want het nog skaars nat of droog oor ons lippe gehad van 6uur die oggend. Half 4 vertrek ek en WP met 'n pakkerasie in die 2 voertuie. Ek kan net regs van my uitsien die res van die vensters is toegepak!!! Na 'n uur op die pad en nog nie die lorrie ingehaal nie dink ons maar die oom het heel goed gery. Net na Riviersonderend gewaar ons die lorrie. Soos ek nader kom trap ek net rem en gooi "hazards" vir WP agter my. Die lorrie staan skeef oor die NAT pad, met voorwiele wal af. Op daardie moment voel dit of my hart gaan staan. Ek weet nie wat ek moet dink of voel nie. WP is briesend!! Die oom vertel die clutch silinder lek en het geen clutch nie. Hy probeer die lorrie toe omdraai om te "running start" bult af maar beland toe met sy voorwiele wal af. Om 'n lang storie kort te maak, ons arriveer half 8 die aand op Caledon. Niks is darem beskadig (of sover ek weet, want mos nog nie uitgepak nie). Die oom is uitgetrek deur 'n ander verbygaande lorrie wat gestop het (Baie nice!!) en vandaar ry die lorrie'tjie tog te heerlik op sy eie tot in Caledon (met stukkende clutch en al). Ons dink die oom het aan die slaap geraak.....Al ons meubels staan nou in 1 vertrek in ons huis wat ons gaan huur. Dit was 'n ervaring wat ek nie sommer gou wil oor hê!!!

Maandag 21 April
GOEIE: My onderhoud op Stellenbosch het heel goed verloop en hulle my gister gekontak dat ek op die kortlys is. Hulle sal my laat weet wanneer die 2de onderhoud is. Bietjie goeie nuus!! Dit is toe nie by Stargrow soos ek vroeër vertel het nie, maar by Bathrooms4U. Hulle het takke in Hermanus, Gansbaai en Stellenbosch.

Woensdag 23 April
SLEGTE: Ek was gister so down en die dag het my net onder gekry. Die mense wat kontrak geteken het om ons huis te huur het gebel om te sê hulle kan nie meer die huis vat weens finansiele probleme. Nou sit ons weer by Straat nr 1 en die huis reeds leeg!!!! Nou adverteer ons maar weer.

Ek bly op die oomblik by my skoonouers. Hulle bederf my in die afgrond, kry pap in die bed, broodjies word vir my ingesit ens. Ek gaan more na werk deur Caledon toe en is dan vir die hele week daar. Het vlg week bietjie af. So ek sal nou bietjie stil wees vir 'n week, maar dan behoort ek baie nuus en foto'tjies te he vir julle!!!

Zene - 6 wke oud

Julle, ek het nog nie sulke oulike babafoto'tjies gesien nie. Ek het skoon trane in my oë gekry vanoggend toe my pa dit vir my stuur.

Dit is geneem deur 'n professionele fotograaf en Zene is al van jonk dag af 'n ware model..Kry seker maar die gene van haar ma...














Thursday, April 17, 2008

McGyver VS Die Been

Daar was onlangs 'n hewige geveg in ons huis betrokke. McGyver het sy eerste "volwaardige" been gekry. (Hy het al voorheen kleiner beentjies gekry, maar ons wou sien wat hy maak met hierdie ene). Daar was 'n gestoei, getrap, gekou en gelek maar die wenner op die einde van die aand was DIE BEEN... McGyver kon hom nie baas raak nie...

Op julle merke, gereed...stoei!!!

McGyver was sommer pootuit na hierdie geveg, en kyk hoe bederf pa hom!!!

Roodebloem Proefplaas

Die plaas waar WP op die oomblik bly is 'n proefplaas van Overberg Agri. Dit is ten vol gemeubileerd en nogal 'n heel oulike huisie.


Hier 'n paar pics van die naweek en die huis:



McGyver het die vlaktes verskriklik geniet en vir ure so gesit...




Die huis se naam










WP braai Saterdag aand vir ons 'n lekker vleisie


Sonsopkoms oor die Overberge

Tuesday, April 15, 2008

Alles werk uit..

Ai julle, ek raak al hoe meer opgewonde oor die besluit wat ons gemaak het om Caledon toe te trek. Alles werk net so goed uit vir ons en is baie dankbaar vir alles. Liewe Jesus kyk mooi na ons!!!

Het gister nog 'n oproep gehad en het volgende Maandag (die 21ste) nog 'n onderhoud. Dit is by Stargrow waarvan ek al in 'n vorige post van gepraat het. Die onderhoud is by Techno Park in Stellenbosch waar hulle hoofkantoor is maar die pos is in Hermanus.

En die eiendomsagent het ook gister gebel en se die mense staan tou om ons huis te sien. Daar was klaar gisteraand 'n ou wat kom kyk het vir sy ouers. Hulle wil kom aftree op Robertson. Nog nie seker of hulle die plekkie wil he.

Wou maar net die nuutste verwikkelinge met julle deel

Monday, April 14, 2008

Huis soek kom tot 'n einde...

Ons huis soek op Caledon het Vrydag aand tot 'n einde gekom.
Ons het 'n lieflike huis gekry en kan al die 1ste Mei intrek.(Gelukkig is die 1ste 'n vakansiedag en het ek sommer daardie hele week af!) Ek was die naweek by WP op Caledon en het Vrydag aand na die huis gaan kyk. Die oom en tannie bly aan die onderkant (hulle het die dubbel motorhuis omskep in woonstel). En nou verhuur hulle die huis bo uit. Dit is 'n 4-slaapkamer huis met 2 badkamers, sitkamer, TV kamer, studeerkamer, kombuis en waskamer. Ek en WP gaan wegkruipertjie speel in die huis!! En teen 'n redelike billike prys pm wat ons nie vir enige ander huis sal kry nie.

Nou moet julle net hard saam met ons bid dat ons huis in Robertson uit verhuur gaan word.

Ek gaan ook Woensdag vir 'n onderhoud by Sumaridge Wines in die Hemel & Aarde vallei. Dis tussen Caledon en Hermanus. Hou maar duime vas, want dis glad nie lekker so op my eie en wil so vinnig moontlik by WP aansluit op Caledon. Ek gaan al more-aand deur so ek sien darem my man die week!!!!

Ons het lekker gekuier op die plaas waar WP nou bly en McGyver het hom gate uit geniet tussen die skaapwolle en graspolle. Hy slaap nog aan een van gisteraand af. Daar is geen TV opvangs so ek en WP kon lekker kwaliteit tyd spandeer en oor al die besluite dink, praat en bespiegel. Hy het 'n verskriklike oulike huisie waarin hy bly.

Sal more die foto'tjies van die nwk opsit..

Thursday, April 3, 2008

Die verlange

Julle, maar verlang ek nou na my man!!! WP het Dinsdag 1 April begin by Overberg Agri en dit gaan heel goed. Hy werk lekker, die mense is aangenaam en niemand baklei of stry met hom nie. Die man is maar net baie alleen en verlang hom dood!!
Hy het toe mos op die ou end 'n huis gekry op die proefplaas van Overberg Agri, maar dit is so verlate daar en daar is nie eers TV opvangs nie...

Aan hierdie kant van die berg hou ek en McGyver mekaar maar geselskap. Hy was gisteraand weer heel uitgelate. Dit het verskriklik gedonneweer en blits en gereen maar M dink dis iemand wat met hom wil speel en hy val die blitsstrale aan wat binne die huis wys. Het so op my eie gesit en lag vir hom.

Op die werksfront het ek nog niks gehoor van die Casino so ek glo dis van die baan. Vanoggend het 'n agentskap my gebel vir 'n werk in Hermanus by 'n kwekery (Stargrow) en hulle sal my laat weet of ek kan kom vir 'n onderhoud. Ons hou maar duime vas!!!

WP is maar na die uitkyk vir verblyf in die dorp, maar huur huise is maar redelik skaars. Hy het Maandag na 'n hele paar huise gaan kyk en daar is 2 waarin hy belangstel. Maar ons kan niks besluit voor ek nie anderkant werk het nie.

Ons glo die Here het ons Caledon toe geskuif so die regte werk en huis sal kom, so GLO ons!!

Tuesday, April 1, 2008

Zene - Die punk rocker

Hier is 'n paar foto'tjies van Zene op 2wke en 1 maand oud...








Kyk die punk hairstyle...















Oumagrootjie en ouma

























Tannie Suzaan hou haar vir die 1ste keer vas en gee sommer bottel ook.










Ons kind - Stout maar tog te dierbaar!!

So paar weke terug het ons 1 middag by die huis gekom van die werk af en al wat ek WP hoor se het is "Wat het jy gemaak??"... Daardie dag het ek gedink WP slaan ons kind, McGyver, dood. Hy het nog 10 minute nadat WP hom die laaste slaan op die boud gegee het nog getjank...

Dit is waarom hy so pak gekry het.....



En die ergste van alles is die volgende dag het hy sy mandjie net verder oopgeskeur. Dit is seker maar van verveligheid vasgekeer binne die kombuis. Sy voorland is nou om in 'n Clover melkkissie te slaap maar een van die dae is hy ook te groot daarvoor..Hy het die afgelope paar wke nogal groot geraak..en Sondag oggend oor die kis gespring wat voor die kombuis deur gesit word sodat hy nie kan uit.

Is hy nie te pragtig nie!!!